Vervolgverhaal – Plattelanders

Hosted by:

Genre:

  • Drama

PLATTELANDERS
Deur JOE KLEINHANS
Regie: BETTIE KEMP

BEKNOPTE OPSOMMING

Sewe mense se lewens raak vervleg op die dorpie Maroelaville.

Die spogsakevrou op die dorp, Klara Korsten, se lewe word op sy kop gekeer na haar man, die dorp se dokter, ‘n beroerte kry en ‘n hulpelose bondeltjie mens word. Die wel ter tale nuwe “wewenaar” op die dorp, dokter Dirk Duvenhage, koop haar man se praktyk. Weldra toon die dokter ‘n lewendige belangstelling in Klara en die dorp skinder oor sy motor vroeg en laat by haar huis staan. Sy sê hy kom spuit haar siek man in maar daar is diegene wat hulle bedenkinge het.

Kaptein Swys Steenkamp se vrou weier om saam met hom na die godverlate dorpie te verhuis. Uit die oog, uit die hart, en die ambiseuse kaptein voel dit gerade om benewens die bekamping van misdaad op die dorp, ook na die welsyn van Klara Korsten om te sien. Dit bring hom in botsing met dokter Dirk.

Die bekkige matrone, Sandra Serfontein, bly egter oor kaptein Swys se skouer loer en sy is ‘n ergerlike klip in sy skoen. Sy lees hom die leviete voor omdat hy nie die Tikverslawing op die dorp hok geslaan kry nie. Tot almal se ontsteltenis is daar ‘n onverklaarbare toename in sterftes. Hou dit verband met die toename in Tikverslawing of broei daar iets anders op die stil dorpie? Sandra staan ook van tyd tot tyd die dorp se koerantman by met die insameling van nuus vir die dorpskoerant: die Plattelander.

Die nuwe bankbestuurder, Roger Smith, sal sy eerste dag op die dorp nooit vergeet nie. Die aantreklike nuwe klinieksuster, Riana Roelofse en hy daag op presies dieselfde dag en tyd by dieselfde verkeerslig op. Een van hulle ry oor die rooi lig met erge gevolge vir hulle albei. Nie ‘n goeie begin vir die twee jong mense nie.

En dan is daar Ricky October, eienaar van Rocky’s Funerals, wat hy by sy legendariese bokserpa, Rocky October geërf het. Reeds met die storie se intrapslag val daar ‘n lyk uit sy lykswa in die dorp se hoofstraat. G’n wonder die dorp skinner dat hy die plek in die grond in bestuur nie. Hy sê hy doen nie dagga en dwelms nie maar daar is dorpenaars wat hom nie glo nie.
Plattelanders is Maroela Media se nuwe radiovervolgverhaal van 120 episodes Die reeks word geskryf deur Joe Kleinhans en opgevoer deur Bettie Kemp.

Rolverdeling:
Dokter Dirk Duvenhage: Richard van der Westhuizen
Kaptein Swys Steenkamp: Lochner de Kock
Sandra Serfontein: Ria Smit
Roger Smith: Duncan Johnson
Riana Roelofse: Natasja Jacobs
Ricky October: Johny Klein
Klara Korsten: Bettie Kemp

Schedule

  • Monday - 4:30 pm - 5:00 pm
  • Tuesday - 4:30 pm - 5:00 pm
  • Wednesday - 4:30 pm - 5:00 pm
  • Thursday - 4:30 pm - 5:00 pm
  • Friday - 4:30 pm - 5:00 pm

Playlists

Blog Posts